Elke onkoste wat die produsent moet aangaan om sy vee in optimale kondisie en op 'n goeie gesondheidsvlak te behou, verminder sy winsgewendheid.
Dus, hoe laer dié insetkostes is, hoe beter sal die produsent se winsgewendheid wees. Gelukkig is die Boerbok 'n baie geharde dier wat uitstekende weerstand teen siektes en parasiete toon. Die Boerbok is nie 'n kieskeurige vreter nie en benut 'n wye reeks plantegroei om in sy behoeftes te kan voldoen. En dit als terwyl hy deurlopend hoë lampersentasies lewer. Afhangend van waar en hoe met hulle geboer word, benodig die Boerbok minimale inentings, ontwurming en dip. Gegewe die ewigstygende koste van dieregesondheidsprodukte, beteken dit 'n aansienlike kostebesparing vir die produsent.